Onder `n kalkoen uitgebroei

So net voor herfstyd dié jaar kry ek ’n kalkoen persent by die buurman wat langs ons gehuur het – hy kon nie sy huur betaal nie en is vriendelik deur die huiseienaar versoek om so spoedig moontlik ’n ander heenkome te vind.

“Waarheen nou, Buurman?” vra my man oor die draad, eintlik meer bekommerd oor die penarie waarin die buurman se arme diere hulself bevind as oor die ou se benarde verblyfsoeksituasie.

Soos gewoonlik sit ek natuurlik ten tyde van die manne se gesprek heel voor knus op die wa se nippertjie, en lig die twee wyse manne vinnig in: “Ons het baie plek vir ’n kalkoen. Hoeveel soek jy vir haar?”

“Dan is die kalkoen joune – sommer mahala!” word kalkoentjie sonder seremonie vinnig deur Buurman nader gesleep. Ek wil nog protesteer, want kalkoene is relatief duur, maar my man gee my blitsvinnig ’n vuilkyk wat sê: “’’n Mens kyk nie ’n gegewe kalkoen in die bek nie!” So ek hou toe maar mý bek.

Ek is omtrént in my noppies met die “geskenk”, want as die buurman slim was, kon hy ’n paar rand uit my gemaak het (en van sy skuld delg), maar wie is ek nou om links en regs wysheid rond te strooi?

“Ek wou nog altyd ’n kalkoen gehad het – eintlik ’n broeipaar. Maar ’n halwe eier is beter as ’n leë dop.” So in die huis toe stap, troos ek die eensame kalkoentjie terwyl ek oor haar lelle streel.

Kalkoentjie kry ’n nuwe dak oor haar kop en ’n sommer ook ’n nuwe naam – maar ek gaan nou nie sê wat haar naam is nie, want ek wil haar die verleentheid oor die geskinder spaar.

Nou ja, ek hét mos ’n hele klompie hoenders hier op die werf ook – broeis goed is dié hoendertjies van my. Hulle het die opdrag van “wees vrugbaar en vermeerder” ernstig opgeneem en die hennetjies lê eiers dat dit klap. As dit nou net nie was vir die likkewaan en die kobras wat ons huis as die plaaslike KFC aansien nie, sou ek die monopolie gehad het om aan Woolworths Free Range hoenders te voorsien.

In elk geval, meng jou met die hoenders en al daai dinge …

Die kalkoen bekyk die bondel broeis pluimvee só en besluit sy gaan nie die enigste onvrugbare veervoetige op die werf wees nie. En daar gaan staan en lê sy toe ’n eier … net een eier.

Daarna gaan neem sy plaas op haar eier. En sy sit vir hom warm.

Met al dié sittery dink ek toe so by myself: “Jinne, maar dit lyk mos vir my die kalkoen is broeis verby, want sy staan net elke tweede dag op, sluk hande vol mieliepitte en hol dan terug nes toe.”

Ek bekyk die grondpad op en af om te sien of daar nie dalk êrens ’n katools kalkoenmannetjie rondloop nie, maar geen laventel-kalkoen-haan se spore loop oor my werf nie.

En so sit die kalkoen.

Ná die tweede maand begin ek haar innig jammer kry, want ek weet geen saad is binne daai dop gesaai om ’n kuiken te laat opkom nie. Teen dié tyd, tesame met die hitte, moet die eier al vrot-gaar wees.

Tog kan ek dit nie oor my hart kry om die eier te gaan uithaal nie.

’n Boer maak ’n plan en ek besluit surrogaatskap is nét wat die kalkoentjie nodig het. Daarom gaan haal ek twee goed bevrugte vars hoendereiers uit die voerkamer.

Nou laat ek jou vertel – dit is ’n storie om by die kalkoen se nes uit te kom, hoor. Eerstens is die nes tussen happerige dorings geleë sodat niks die eiertjie kan bykom om dit vir ontbyt te klits nie. Tweedens is die broeis kalkoen nie jou maatjie nie, en sal sy jou vol skrape skop as dit moet. Vra maar my Duitse Herdershond as jy my nie glo nie.

Dus wag ek toe maar my kans mooi af en die oomblik toe sy opstaan om te gaan eet, snol ek asof my lewe daarvan afhang, breek met ’n oorwinningskreet dwarsdeur al die dorings wat my pad versper, en lewer die twee eiers soos ’n wafferse ooievaar sonder vlerke af. Ek tel die dae om – omtrent een-en-twintig dae, dan behoort die nuwe lewe die doppe te laat kraak. Ek wag en ek wag – niks gebeur nie. Ek werk die berekeninge weer op my vingers uit en krap my kop, want – wonder bo wonder – klop dit. Ek bekruip dus toe maar weer die nes (die rowe darem al teen dié tyd heel), maar die twee hoendereiers is skoonveld – net die kalkoeneier lê daar, blou gebroei.

Jana Fourie

© Jana Fourie | Alle regte voorbehou | Webwerf ontwerp deur Creative Partner

×