Woes in die woestyn

Dis nou nie ’n plek wat op die meeste van ons se emmerskoplys is om te wil besoek nie.

Ons soek mos die groen weivelde, die goue strande, die pina colada-met-twee-sambreeltjies-in-drankie, saam met die see wat ons ná al die mengeldrankies bed toe neurie.

Ek kyk nou die dag na ’n dokumentêr op YouTube wat handel oor die uithoeke van die Saharawoestyn. Nie die gebiede wat deur toeriste besoek word nie – ek praat hier van die êrens-tussen-nêrens se gopse; waar die enigste ding wat lewe die duine is wat deur die wind gehelp word om te loop.

Al het die verlatenheid my selfoonskerm vol gelê, was daar tóg iets rein en onbevlek aan hierdie godverlate stuk aarde. Bruin en rooi en geel skakerings perfek in en om mekaar gemeng, geverf teen ’n doek van meters hoë growwe klippe, staangemaak op ’n esel met ’n doek van die blouste blou lug.

Die nagte is suiwer, skoon donkerte – en die sterre, deur die swartste nag diamantblink gepoleer skitter vasgeplak bo-op die duisternis.

Niks wat mensehande self aandra, kan die plek verfraai nie; net die woestyn kan dit in hom en vir homself mooimaak.

Plant jy ’n groenigheidjie, gaan die hitte dit vraatsig opvreet. Die ys binne jou drankie gaan smelt, die alkohol gaan verdamp en net ’n afgewaterde besigheid sal al stomend oorbly. Jy sal nie eers ’n plonspoel kan grawe nie, want wie se drinkwater gaan jy gebruik om dit vol te tap?

Maar ’n mens moet nooit “nooit” sê nie, en my raad sou wees dat, indien jy jou om die een of ander rede in ’n woestyn bevind (die vliegtuig het dalk sy neus in ’n duin geplant), jy jou aankoms binne die woestyn nederig aanvaar en nie jou lyf voorbarige toeris hou en op gemak wag nie.

O nee, verwag swaarkry, verwag stilte, verwag eensaamheid, verwag om te dink dat jy die enigste mens is wat op jou hurke in die woenstyn sit. Gestroop van alles wat sigbaar mooi is, moet jy die lelik gaan soek en dan, wanneer jy dit gekry het, jou twee kykers op skrefies trek om die mooi binne die krake raak te sien.

Hoekom? Want jou lewe hang daarvan af.

En dan begin jy loop en die een of ander tyd sal jy ’n Bedoeïen met ’n meestersgraad in woestynkunde raakloop om jou te lei.

Ek het al deur baie woestyne moes loop. Ek loop tans deur seker een van die droogstes. Die meeste kere het omstandighede of stupid besluite my paadjie oor die deinings laat stap, maar hierdie keer is dit my binnekant wat my deur die woestyn laat trippel (nie uit blydskap nie … o nee, die sand is warm en my voete is kaal).

So kom ek toe af op ’n gedig wat ek so ’n jaar gelede geskryf het en wat in die Inkspraak 4-digbundel opgeneem is. En ek dink toe: “Mmmm, dis nogals relevant – gegewe die foltering waardeur ek tans gaan.”

Woestyn

Kromgetrekte skouers;

mank van die pyn.

Loop ek, nee, ek kruip

deur die godverlate woestyn.

Mirage van oase

terg op die horison.

En oopgevlekte lippe soek

na water wat nooit kom.

Son slaan op my skouers

gebrande vel verniel.

Gewraakte grynslag skater

en brand blase op my siel.

Kraaie kring wyd om my,

skreiend hard, dan sag.

Hul skadu’s bring verlossing

en brood in kloue wag

Skrefiesoë sien berge

ver op die horison.

En vasberade hartklop weet

my Hulp sal van daar af kom.

Want jy sien, op die een of ander tyd het die woestyn ook ’n eindpunt, al voel dit nie so nie. En al voel jy absoluut godverlate tot binne-in jou gebeente, dan kyk jy op na die Berg wat op die horison skim en weet dís waar jou hulp vandaan kom.

Woestyn, jy is vir my mooi.

Jana Fourie

© Jana Fourie | Alle regte voorbehou | Webwerf ontwerp deur Creative Partner

×