HAMBIDGE PRYS EN PIETS
JOAN HAMBIDGE het ‘n nuwe Afrikaanse roman met eggo’s van Hitchcock gelees.
Grenslyn deur Jana Fourie is ’n pakkende debuut. Die sogenaamde “borderline disorder” en hele kwessie van liminaliteite word ondersoek.
’n Anonieme ek-verteller met depressie wat veg teen die herinneringe aan ’n alkoholispa. ’n Troebel psige.
Die groot filmmaker Alfred Hitchcock het by uitnemendheid hierdie soort psige ontgin. ’n Mens dink hier aan Marnie (1964) en Psycho (1960).
In Alfred Hitchcock Presents kry ons ’n opname van die meester op sy beste; uitgesaai tussen 1955 en 1965. Ofskoon hy in net 18 episodes die regisseur is, sien jy deurentyd sy aanslag. Selfs die mees bedrewe speurverhaalleser, soos ’n Deborah Steinmair, word telkens onkant betrap. Twee reekse met agt DVD’s (vier per DVD) is erg verslawend. Gehuur by my DVD-man.
’n Twist in the tale. ’n Man wat wraak neem nadat sy vrou in die oerwoud vermoor is. Min wetend dat sy weggeloop het met die ouer man; skiet haar dan dood. Of die gasman wat kwansuis die gasmeter “toets” en die vrou dan konfronteer met foto’s van haar buite-egtelike verhouding. Hom voordoen as ’n speurder. Hy is egter die man se broer en wil wraak neem nadat hy ‘n erfporsie ontbeer het. Broer wat speurder speel, vermoor sowel die vrou as haar man. En jy as kyker is vasgenael. Die ontknoping is telkens onverwags; die spanning bykans onhoudbaar. Met wie identifiseer jy?
Met Bernard Herrmann se bekende musiek …
En Hitch se bekende logo.
Francois Truffaut het Hitchcock as ernstige filmmaker ontdek.
In 1966 verskyn ’n boek van Truffaut oor Hitch en ’n dokumentêr gemaak deur Kent Jones in 2015, Hitchcock/Truffaut.
II
Só word Grenslyn bemark:
Grenslyn bied episodes uit die lewensverhaal van ’n anonieme ek-verteller, Vroumens … oor haar huwelike, ook haar traumatiese kinderdae weens haar pa se alkoholisme en oor haar gevolglike depressie. As volwassene word sy gediagnoseer met grensgeval-persoonlikheidsteuring wat die konteks skep waarin die hoofkarakter se weergawe van gebeure verstaan moet word. Dit bied ’n sleutel tot haar gedrewe lewenshouding: Sy noem haarself ’n dom waaghals wat holderstebolder betrokke raak by situasies wat die adrenalien voluit pomp. Haar humorsin, weiering tot selfbejammering en liefde vir perde is egter haar oorlewingsmeganismes.
Die perde wys my die Suiderkruis wanneer die winter my hart van depressie wil laat toeryp, en die Drie Konings in die somer wanneer die sweet van angsaanvalle my lakens wit van salpeter los. Hulle herinner my daaraan dat die hier en nou al is wat saak maak. Hulle leer my om tjoepstil te staan wanneer die blitse wil piets en die wolke lawaai en die reëndruppels soos haelkoeëls op my kop val. Om dan die vrede te midde van die storm te soek.
III
Is dit kortverhale? Dalk ’n episodiese roman? Of werk dit, soos Hitchcock se reekse, waar jy letterlik intuimel van een episode tot die volgende en patologie meemaak?
Dis ’n donker boek. ’n Verteller wat sonder skroom haar twee ekke aan jou voorstel. Paranoia wat alles bepaal. ’n Futiele soektog na begrip by mans. Versaking. Waar die kamera by die gekwelde Marnie van buite fokus, word ons hier ingesleep by die binnespraak van ’n gekwelde vrou.
En die perd? Equus van Peter Schaefer word dalk geaktiveer in hierdie vertellings, daardie wonderbaarlike psigologiese drama uit 1973, met die karakter Alan Strang wat perde verblind het. ’n Analise van leuens en die invloed van godsdiens op ’n brose-psige-ondersoek deur die psigiater dr. Dysart.
Hier is die verhaal,
Die perd by Fourie heet Cyrus. Naamgenoot van die Persiese koning in die Bybel wat Israel verlos het.
Maar dit is ironies. Daar is geen verlossing nie.
IV
Fourie gebruik ook Peter Pan en etlike ander kinderboekverwysings om die verhaal simbolies in te kleur. Bloedlynvlekke word slim ontgin in hierdie vertellings.
Daar is humor en selfspot. En welig poëtiese taal.
Manlief geplaas teenoor Vroumens. En ’n boeiende ondersoek na die lewe in die labirint van depressie. Eerlike, oorrompelende vertellings oor emosionele en fisieke geweld.
Soos Hitch se stories wat jou onkant betrap.
Die slot in Grenslyn sou by Hitchcock bepaald by moord geëindig het.
Grenslyn deur Jana Fourie is deur Turksvy Publikasies uitgegee en kos R260 by Turksvy.
