Ek het vandag vir ouma
wilde alwyne geplant
In die woeste tussen rotse
Die alwyn’e vertel verhale
van lank terug se onthou
Toe vrede sonder teenspoed
met doring-veld kon trou
“Destyds in die bosveld
het ons alwee hoog getroon
En onder apiesdoring takke
het geborgenheid gewoon
In oud se tyd het alwee
fakkel krone trots gedra
En as die bosveld winters-kaal was
het ons lente terug gevra
Geblomde krone gloeiend
vlammend brand ons deur die swaar
bakens wys na dit wat mooi is
`n Droom in doringblaar bewaar.”
Ek hunker na die bosveld
dae toe vel oor kindsbeen pas
Na skoon hande en skoon voete
wat in grondpad stof kon was
Toe die lewe heilig rein was
en nie bevlek en vuil soos nou
Toe bang was vir my vreemd was
Toe ek onskuld kon vashou
Dan kyk ek die klomp alwee
wat midde hitte-golwe bly
En selfs winters-vingers sukkel
om die dood te laat gedy
Daar was vannag vir ouma
Wilde alwyne geplant
En die jakkels huil van heimwee
Want hy weet dat ek verlang.
