Alwyne vir Ouma – Jana Fourie (kopiereg)

Ek het vandag vir ouma

wilde alwyne geplant

In die woeste tussen rotse

waar die son sy blase brand

Die alwyn’e vertel verhale

van lank terug se onthou

Toe vrede sonder teenspoed

met doring-veld kon trou

“Destyds in die bosveld

het ons alwee hoog getroon

En onder apiesdoring takke

het geborgenheid gewoon

In oud se tyd het alwee

fakkel krone trots gedra

En as die bosveld winters-kaal was

het ons lente terug gevra

Geblomde krone gloeiend

vlammend brand ons deur die swaar

bakens wys na dit wat mooi is

`n Droom in doringblaar bewaar.”

Ek hunker na die bosveld

dae toe vel oor kindsbeen pas

Na skoon hande en skoon voete

wat in grondpad stof kon was

Toe die lewe heilig rein was

en nie bevlek en vuil soos nou

Toe bang was vir my vreemd was

Toe ek onskuld kon vashou

Dan kyk ek die klomp alwee

wat midde hitte-golwe bly

En selfs winters-vingers sukkel

om die dood te laat gedy

Daar was vannag vir ouma

Wilde alwyne geplant

En die jakkels huil van heimwee

Want hy weet dat ek verlang.

Jana Fourie

© Jana Fourie | Alle regte voorbehou | Webwerf ontwerp deur Creative Partner

×